Uitspraak is vandag voorbehou in die saak wat Numsa teen Solidariteit en Comair voer. Die saak, waarin Numsa vra dat ʼn kollektiewe ooreenkoms wat tussen Solidariteit en Comair gesluit is, nie op hulle van toepassing moet wees nie, is in die arbeidshof aangehoor.
Die lugredery is tans in sakeredding en het befondsing van beleggers ontvang om sy koste te dek. Die voorwaardes verbonde aan hierdie befondsing sluit egter ʼn verkorting van afleggingsprosesse in.
“Voordat die ooreenkoms met Comair aangegaan is, het Solidariteit deurentyd met sy lede gekonsulteer. Dit is danksy die sluiting van hierdie ooreenkoms dat die voortbestaan van die lugredery verseker kon word en sal meer as 1 600 werknemers hul werk kan behou. Dit is in die beste belang van al die werknemers by Comair dat hierdie ooreenkoms nie tersyde gestel word nie,” sê Derek Mans, organiseerder van lugvaart en verdediging.