Solidariteit het vandag die aankondiging deur die departement van basiese onderwys dat skole op 15 Februarie sal oopmaak ten sterkste veroordeel. Die aankondiging volg nadat dié departement gister met die nasionale bevelsraad vergader het waar daar besluit is om die opening van skole met meer as twee weke uit te stel.
“Dit is uiters kortsigtig van die regering om kinders vir hierdie tydperk uit hul skole te hou,” sê Johnell van Vollenhoven, media- en skakelbeampte by Solidariteit. “Navorsing uit verskeie oorde het reeds getoon dat ’n skool in meeste gevalle die veiligste plek is waar ’n kind hom- of haarself gedurende die pandemie kan bevind. Nie net ontvang kinders broodnodige onderrig by die skool nie, maar is hulle is ook onder toesig waar veiligheidsmaatreëls streng toegepas word en meeste kinders ontvang ook hier hul enigste maaltyd vir die dag. Die VN se Kinderfonds (UNICEF) het reeds op 12 Januarie gesê dat om skole te sluit die laaste uitweg moet wees.”
Volgens Solidariteit tree die bevelsraad nie in die beste belang van leerders op nie. UNICEF, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) asook die sentrums vir siektebeheer- en voorkoming (CDC) is dit eens dat skole wel kan oopmaak wanneer die nodige maatreëls in plek is. Derhalwe, behoort die bevelsraad liefs te fokus op hoe om hierdie maatreëls in plek te kry, in stede daarvan om te kla dat skole nog nie voorbereid is nie. Dis nou die tyd om proaktief te begin optree.
Die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie (AAP) meen op sy beurt dat alle maatreëls ten opsigte van skole ten doel moet hê dat alle kinders fisiek by die skool is om onderrig te ontvang. Daar is verder geen bewyse dat die opening van skole enige verskerping van positiewe gevalle van die virus tot gevolg het nie.
Die gevolge van hierdie uitstel is vernietigend vir beheerliggaam-aanstellings en ander bykomende dienste wat skole bied. Onderwysers is reeds onder druk om agterstande in te haal wat weens die verlies aan skooldae verlede jaar ontstaan het. Dit is onredelik om te verwag dat verdere agterstande, wat deur die nuutste uitstel van die skooljaar veroorsaak gaan word, nou ook opgevang sal moet word.
“Om die skole gesluit te hou, is nadelig vir die hele skoolgemeenskap. Die skade wat kinders ly wanneer hulle van toegang tot kos en toesig ontneem word, hou verreikende gevolge vir hulle in. Hierdie kinders kan ook nie met hul leerprogramme aangaan nie, wat hul skolastiese vordering beïnvloed en ʼn blywende letsel op hul akademiese loopbaan laat. Solidariteit kan dit ook nie gelate aanvaar dat ons lede in die onderwys se werk in gedrang kom nie. Dit is die soveelste keer dat die regering burgers, en in hierdie geval onderwysers, op die brandstapel offer omdat hul voorbereiding (die regering sʼn) gebrekkig was,” sluit Van Vollenhoven af.