Algemene Inligting
Ek was in aanraking met iemand wat positief vir Covid-19 getoets is... Wat nou?
Solidariteit wil ʼn veilige werksomgewing vir alle personeel skep, en personeel en hul gesinne wat deur Covid-19 geraak word, ondersteun.
Sedert Junie 2020 is die reëls rondom die inperking stadig maar seker verslap wat mense toelaat om nou stadig maar seker meer en meer rond te beweeg. Dít verhoog egter nou almal se risiko om aan die Covid-19-virus blootgestel te word.
Die aantal Covid-19-gevalle is besig om skerp toe te neem en personeel word versoek om juis nou ekstra versigtig te wees en die nodige veiligheidsmaatreëls streng toe te pas om hulleself van onnodige blootstelling te beskerm.
Indien dit onder jou aandag kom dat jy wel in aanraking was met iemand wat positief vir Covid-19 getoets het, moet jy asseblief die volgende doen:
- Stap 1: Indien dit onder jou aandag kom dat jy in kontak was met iemand wat positief vir Covid-19 getoets het, moet jy dit binne 24 uur by Solidariteit aanmeld.
- Stuur ʼn e-pos aan rolanda@solidariteit.co.za en CC jou betrokke lynhoof.
- Stap 2: ʼn Verteenwoordiger van die PBO-afdeling sal jou kontak in dié verband om die agtergrond van die situasie te verstaan.
- Stap 3: Voltooi die aanmeldingstemplaat wat jy vanaf die PBO-verteenwoordiger sal ontvang. Hierdie templaat het grootliks ten doel om te bepaal wat die kategorie van blootstelling was en die vlak van risiko wat daaraan gekoppel word.
Dit is belangrik dat ons weet met wie jy almal kontak gehad het in die voorafgaande 14 dae. Jy gaan dit moet aandui in terme van drie kriteria, nl.
-
- Kontak binne die werksomgewing
- Kontak tydens verrigting van werk (nie op kantoor nie, bv. by ʼn maatskappy of die KVBA)
- Kontak met ander tuis (inkopiesentrum, huishulp, familie)
- Stap 4: Plaas jouself vir 7 dae in self-isolasie en monitor jouself vir enige simptome. Indien jy enige simptome begin toon, moet jy asseblief vir ’n toets gaan om te bevestig of jy wel positief is.
- Stap 5:
- Indien jy geen simptome binne 7 dae toon nie, stel asseblief jou lynhoof en die betrokke PBO-verteenwoordiger in kennis. Jy kan nou terugkeer na die kantoor soos gereël met jou lynhoof.
- Indien jy wel positief toets, moet jy dit binne 24 uur aanmeld by rolanda@solidariteit.co.za.
- Verwys asseblief na die instruksie onder “Ek het positief vir Covid-19 getoets; wat nou?” vir verdere instruksies.
Wees gerus dat ons alle gevalle met die nodige sensitiwiteit hanteer.
Ek het positief getoets vir Covid-19 ... Wat nou?
As werkgewer verstaan Solidariteit dat dit bykans onvermydelik is dat ʼn persentasie van ons personeel wel in die nabye toekoms positief gaan toets vir Covid-19.
Hoewel ons die nodige prosesse moet volg soos vereis word deur die departement van arbeid, is ons oorhoofse doel egter om ʼn veilige werksomgewing vir ons personeel te skep en personeel en hul gesinne wat deur Covid-19 geraak word, te ondersteun.
Indien jy wel positief getoets het vir Covid-19, moet jy asseblief die volgende stappe volg. Wees gerus dat ons alle gevalle met sensitiwiteit hanteer.
- Stap 1: Indien jy positief getoets het vir Covid-19, moet jy dit binne 24 uur by Solidariteit aanmeld.
- Stuur ʼn e-pos aan rolanda@solidariteit.co.za en Cc jou betrokke lynhoof.
- Stap 2: ʼn Verteenwoordiger van die PBO-afdeling sal dan met jou ʼn gesprek skeduleer via Teams.
- Stap 3: Tydens die Teams-gesprek gaan ons deur ʼn aanmeldingstemplaat werk. Die gesprek gaan informeel wees en die doel is regtig net om die agtergrond oor die saak te kry en om te hoor of daar iets is waarmee ons jou kan ondersteun.
- Biografiese inligting: Ons gaan begin deur al jou biografiese inligting te bevestig wat op KOMPAS vervat is (bv. identiteitsnommer, kontaknommer en straatadres).
- Covid-19-toets: Ons gaan dan met jou gesels oor die positiewe uitslag van die toets wat jy ontvang het (bv. wanneer het jy laat toets, waar het jy laat toets, waar het jy na jou mening Covid-19 aangesteek en wat is jou simptome).
- Geneesheer: Indien jy ʼn spesifieke dokter het wat jou simptome monitor, moet jy asseblief ook sy of haar inligting (naam en kontaknommer) beskikbaar hou.
- Self-isolasie: Ons wil graag wil weet hoe jy self-isolasie tuis toepas (bv. jy dra jou masker, behou ʼn afstand van minstens 2 m tussen jou en enige gesinslede, gebruik dalk ʼn aparte badkamer, ens.)
- Stap 4: Dit is belangrik dat ons weet met wie jy almal kontak gehad het binne die 14 dae voor jou diagnose. Ons gaan dit ten opsigte van drie kriteria bespreek, nl.
- Kontak binne die werksomgewing
- Kontak tydens verrigting van werk (nie op kantoor nie, bv. by ʼn maatskappy of die KVBA)
- Kontak met ander tuis (inkopiesentrum, huishulp, familie)
- Stap 5: Ons gaan ʼn kort verklaring van jou vra. Die verklaring kan jy per e-pos stuur aan die PBO-verteenwoordiger wat jou gekontak het.
- Onthou om jou e-pos te begin met: “Hiermee verklaar ek, (JOU NAAM EN VAN), identiteitsnommer (JOU ID NOMMER) dat…”
- In jou verklaring moet jy asseblief die volgende vrae dek:
- Wat was jou simptome en hoekom het jy jou laat toets?
- Waar het jy vermoedelik Covid-19 opgedoen?
- Wanneer het jy vir die toets gegaan?
- Waar het jy die toets laat doen?
- Wanneer het jy jou uitslag ontvang?
- Wanneer het jy die werkgewer van die uitslag in kennis gestel?
- Het jy enige PPE (masker/handreiniger) van jou werkgewer ontvang?
- Het jy enige opleiding (bv. induksie) met betrekking tot Covid-19 en jou terugkeer werk toe van jou werkgewer ontvang?
- Toe jy op kantoor was –
- met watter personeel het jy kontak gehad en op watter wyse (bv. was julle saam in ʼn vergadering of het julle mekaar net in die gang gesien)?
- Met wie het jy kontak gehad buite die werkplek (bv. huishulp, Dischem en gade/kinders)?
- Wie is die geneesheer wat toesig hou (indien van toepassing)?
- Wat is die stappe wat jy volg vir self-isolasie tuis?
- Stap 6: Heg asseblief jou toetsuitslae by jou verklaring aan. Indien jy dit nog nie ontvang het nie, stuur dit asseblief binne 72 uur aan die betrokke PBO-verteenwoordiger.
- Stap 7: Jy kan ʼn oproep van die departement van gesondheid verwag, maar dit is onafhanklik van die proses wat ons as werkgewer volg. Hulle moet self ook net die nodige inligting by jou kry.
- Stap 8: Solidariteit sal sorg dat jou kantoor weer gesaniteer word alvorens jy terugkeer.
ALGEMENE VRAE
- Wanneer mag ek terugkeer werk toe?
Die departement bepaal dat jy jouself vir 14 dae in self-isolasie moet plaas. Jy hoef nie meer ʼn tweede toets te laat doen om te bevestig dat jy negatief is nie.
Let wel: Indien jy na 14 dae nog simptome toon, moet jy jou geneesheer kontak en jouself vir ʼn verdere 7 dae in self-isolasie hou.
- Mag ek siekverlof neem?
Baie mense wat positief toets vir Covid-19 se simptome is gering en hulle kan aangaan met hulle normale dagtake. Indien jou simptome wel van so ʼn aard is dat jy nie kan werk nie, mag jy jou geneesheer kontak en ‘n voorskrif en siektesertifikaat ky.. Jy kan dan jou gewone siekverlof hiervoor aanwend.
DIE COVID-19-KOMITEE
Die volgende individue dien in die Covid-19-komitee en vertolk die volgende rolle:
Dawid Durie: Nakomingsbeampte
Jaco de Lange: Skoonmaak van kantore
Rolanda du Toit: Aanmelding van positiewe gevalle
Rudi Greyson: Beroepsgesondheid en -veiligheid
Hanlie Janse van Vuuren: Beroepsgesondheid en -veiligheid
Johan Böning: Beroepsgesondheid en -veiligheid