Solidariteit eis dat die regering die verskaffing van entstowwe aan gesondheidswerkers moet versnel. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die regering die proses reeds met sowat drie maande vertraag het.
“Gesondheidswerkers is die hedendaagse helde van Suid-Afrika. Hulle werk ongelooflike ure onder moeilike omstandighede en is buite verhouding aan die virus blootgestel. Hulle moet ook dan buitengewone ondersteuning kry. Een van die metodes van ondersteuning is ʼn dringende ingryping om entstowwe aan dié groep beskikbaar te stel,” verduidelik dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Solidariteit voer aan dat bilaterale gesprekke met maatskappye die grootste prioriteit moet geniet. Gesondheidswerkers kan nie, volgens Solidariteit, wag vir die stadiger Covax-proses nie.
“Die keuse berus egter steeds by die gesondheidswerker. Ons glo nie aan verpligte inentings nie, maar ons glo daaraan dat die entstof beskikbaar moet wees vir diegene wat dit wel wil ontvang. Toegang is die sleutelwoord,” sê Hermann.
Solidariteit verwelkom die samewerking met die privaat sektor, maar beklemtoon dat die mediese fondse, hospitaalgroepe en ander ondernemings egter nie net finansierders mag wees nie; hulle moet betrek word by die totale waardeketting, insluitend aankope en verspreiding.
“Die staat kan nie beheer en die privaat sektor finansier nie. Die staat het ʼn swak bestuursrekord. Die regering het tydens die pandemie reeds oor en oor bewys dat hy nie bevoeg is om leiding te neem nie. Dit is hierdie onbevoegdheid wat tot die vertraging in die verkryging van die entstof aanleiding gegee het, en die regering moet so ver as moontlik van hierdie proses af weggehou word.
“Ons is bekommerd dat die fase-benadering weereens swak bestuur sal word en tot verdere vertragings sal lei, wat meer druk op gesondheidswerkers sal plaas. Hierdie mense is reeds oorlaai met pasiënte, hulle is uitgebrand en hulle moet nou die eerste prioriteit wees. Dit gaan eers beter word wanneer almal toegang tot die entstof het,” sluit Hermann af.
As far as I can remember, Johnson&Johnson already applied for their vaccine to be approved by the medicine control council. I wonder how long this process will take. They plan to produce the vaccine in South Africa. This will be good as it will create employment and a full value chain.