Diskriminasie en die kwotastelsel kos Philip 'n dekade van sy lewe
Solidariteit het 'n kompetisie geloods waar een gelukkige lid van Solidariteit die publiek in Augustus by die Verenigde Nasies in die geveg teen onbillike diskriminasie kan verteenwoordig. Na honderde aansoeke, die publiek se menings, ’n stemming en onderhoude, is die perfekte kandidaat gekies.
Phillip van Niekerk, ’n 31-jarige tandarts van Kaapstad, is aangewys as die kandidaat wat die publiek tydens Solidariteit se besoek aan die VN sal verteenwoordig. Philip voel sterk oor die kwotastelsel, en kan homself en die breër publiek goed verteenwoordig en 'n spreekbuis wees vir almal wat negatief deur kwotas geraak is.
Dit het Phillip, ’n vierdejaar mediese student aan die Universiteit van Kaapstad, tien jaar en twee grade geneem om keuring vir sy mediese loopbaan te verkry ten spyte van sy 88% gemiddeld in matriek.
Phillip het op die ouderdom van 29 besef dat die proses nie sy tekortkominge weerspieël het nie, maar dat dit eerder op ’n kwotastelsel neerkom wat ernstige gevolge inhou, veral in sy beroep. Hy is van mening dat regstellende aksie en diskriminasie die onregverdigste stelsel is wat bestaan; dit het hom 'n dekade van sy lewe gekos.
“Dit verlaag prestasie in besigheid, op die sportveld, asook in akademie en gesondheidsdienste in Suid-Afrika. Ek sal graag wil opstaan en praat vir ons mense, vir Afrikaners, vir minderhede in Suid-Afrika, om die diskriminasie wat ons op 'n daaglikse grondslag ervaar en wat onder die mat ingevee word, te openbaar sodat dit beter deur die wêreld raakgesien kan word en ons weer 'n regverdige samelewing kan hê,” sê Phillip.
Vrae en antwoorde aan Phillip:
Dink jy hierdie aksie wat ons neem om die staat VN toe te vat is belangrik?
Ja, baie Afrikaners word onregverdig benadeel. Mediese keuring moet gaan oor die beste persoon vir die veld, nie oor velkleur nie. Dit skep 'n gevaar vir die beroep.
Wat is 'n Afrikaner?
Die buiteland sien ons, die Afrikaners, as skurke, maar ons het in werklikheid 'n eie identiteit in die suide van Afrika. Ons het hier onsself kom vorm en ons het iets uniek kom bou. Ons het uit baie plekke na Afrika gekom, en ons het hier deel geword van Afrika, ons het hier diep spore getrap, en ons hoef nie vir enigeen terug te staan nie.
Het jy al oorweeg om te emigreer?
Glad nie. Ek was al in Kanada, maar bly liewer vir Suid-Afrika.