BEL ONS: 012 644 4300

Agtergrond

Die skaduverslag strek wyer as bloot Solidariteit en sy lede. Solidariteit fokus op ʼn saak wat alle Suid-Afrikaners raak en wat ’n brandpunt vir almal, ongeag ras, geword het. Suid-Afrikaners oor ʼn breë spektrum is moeg vir die swak polisiediens as gevolg van ʼn oordrewe fokus op ras, dink dit is uiters onbillik om die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap toe te pas, en dink dit is absurd om met ʼn aggressiewe kwotastelsel vaardighede by Eskom te verjaag te midde van ʼn kragkrisis. Suid-Afrikaners oor ’n breë spektrum is ook moeg vir kwotas in sport ten spyte van internasionale voorskrifte wat dit duidelik nie toelaat nie. Solidariteit verwag dus steun vanuit alle oorde in ons openbare konsultasieproses.

In die klag word die DKD, wat die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap wil toepas, die SAPD se regstelbeleid, die Renate Barnard-saak, die gebruik van die nasionale demografie op Eskom se tegniese posvalle asook die Minister van Sport se verbod op internasionale sportbyeenkomste as gevolg van nie-nakoming van kwotas, as gevallestudies gebruik.

Solidariteit en AfriForum het in ’n gesamentlike deel oor kwotas in sport gewys dat die regering nie net die internasionale sportliggame se regulasies oortree nie, maar ook plaaslike wetgewing ignoreer. Volgens ’n meningspeiling van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede steun 78% van Suid-Afrikaners dat meriete in sport moet geld, 74% van swart Suid-Afrikaners steun meriete in sport.

Die klag stel dit dat die regering se beleid van rassekwotas nie as regstellende aksie gedefinieer kan word nie, maar eerder as ’n vorm van neorassisme wat nêrens in die wêreld aanvaarbaar is nie.

Van die belangrikste punte van Solidariteit se klag teen die regering se neorassisme is die volgende:

  • Verskillende silo’s vir verskillende rasse- en geslagsgroepe word geskep.
  • Dit wil ’n toekoms deur maatskaplike manipulasie skep.
  • Rasseklassifikasie in Suid-Afrika word weer geïnstitusionaliseer.
  • Rasverskille het die basis vir besluitneming geword.
  • Daar word nie op benadeling van die verlede gefokus word nie, maar slegs op ras.
  • Daar is nie ’n sonsondergangklousule nie omdat die rassedemografie deurlopende verander.
  • Daar is nie ʼn fokus op opleiding en ontwikkeling van mense nie, maar slegs op wiskundige uitkomste.
  • Rassekwotas word nagejaag sonder inagneming van dienslewering.

Daarteenoor bepaal internasionale praktyk oor regstellende aksie soos volg:

  • Geen silo’s mag geskep word nie; daar moet ook na klas gekyk word en ras mag net in uiterste gevalle gebruik word.
  • Benadeling in sy geheel moet reggestel word en nie net met syfers nie.
  • Daar moet gewaak word teen die institusionalisering van vorme van rasseklassifikasie.
  • Daar moet ʼn sonsondergangklousule wees wat nie verder strek as wat nodig is nie en met die oog daarop dat slegs meriete gebruik kan word.
  • ʼn Verskeidenheid van faktore moet in ag geneem word wat insluit billikheid en individuele meriete in operasionele vereistes.
  • Daar moet gefokus word op opleiding en ontwikkeling van mense as die belangrikste metodes van regstelling.
  • Daar moet gefokus word op goeie dienslewering as ʼn vorm van regstelling, veral vir armes.

Suid-Afrika se program van rasseverteenwoordigendheid voldoen dus nie aan die definisie van regstellende aksie nie.

Een van die vereiste van die VN aan Solidariteit om suksesvol te wees, is om plaaslike steun te bewys. Solidariteit wil wys dat honderde duisende mense rassekwotas verwerp.

SMS net die woord reg na 34802 en word so deel van die duisende wat rassekwotas verwerp.

  •  
  •  
  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Maak toe / Close