Verskeie meningsvormers het in Junie by insetkonferensies in Pretoria en Kaapstad insette gelewer op Solidariteit se klag teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies. Die meningvormers wat aan die konferensies deelgeneem het, sluit onder andere in dr. Danny Titus, uitvoerende direkteur van kultuur by die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV); René Govender, nasionale projekkoördineerder van die Confederation of South African Workers’ Unions (Consawu); senior advokate Paul Hoffman en Martin Brassey ; bekende sakemanne Herman Mashaba en Sandile Zungu; dr. Theuns Eloff, voorsitter van die F.W. de Klerk Stigting; Temba Nolutshungu, uitvoerende direkteur van die Vryemarkstigting; Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriForum; en Tony Leon, voormalige leier van die Demokratiese Alliansie.
Die vakbond se klag neem die vorm aan van ’n skaduverslag wat aan die VN gerig word en handel spesifiek oor die regering se oortreding van die VN-konvensie wat alle vorme van rassediskriminasie verbied. Die konferensies was deel van ʼn twee maande lange openbare proses om insette van Suid-Afrikaners vanoor die hele rasse- en politieke spektrum te kry om sodoende ʼn breë spektrum van Suid-Afrikaners se mening in die verslag weer te gee.