BEL ONS: 012 644 4300

Vrae en antwoorde oor die VN

Rassekwotas: Solidariteit v die Staat 

Solidariteit Wêreld het ’n onderhoud met dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gevoer oor die klag wat Solidariteit teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies gelê het. Die klag word op 8 Augustus aangehoor.

Waarom het Solidariteit ’n klag by die Verenigde Nasies gaan lê?

Die Suid-Afrikaanse regering gaan eenvoudig te ver met rassekwotas. Dit is asof ons ’n rassestaat geword het en nie ’n grondwetstaat nie. Iemand moet die demokratiese selfvertroue kry en teen die staat opstaan. Solidariteit het besluit om daardie baadjie aan te trek en het reeds ’n jaar gelede ’n klag teen die Suid-Afrikaanse regering gelê.

Is dit nie beter om sake in Suid-Afrika uit te sorteer nie?

As daar een groep is wat sy bes probeer het om in Suid-Afrika ’n oplossing te kry, is dit Solidariteit. Ons het twee keer wetswysigings by die parlement gepetisioneer, het gepoog om ’n akkoord met die regering te sluit en het ál die interne regsremedies tot in die Konstitusionele Hof uitgeput.

Solidariteit was tog dikwels suksesvol in die hof – waarom dan nog na die Verenigde Nasies?

Die antwoord lê in die vraag. Ons was al dikwels suksesvol in die hof. In ’n grondwetlike demokrasies waar die reg gerespekteer word, gaan jy een keer hof toe en dan word aanvaar die teenparty sal hulle daarby hou. Solidariteit moet weer en weer hof toe gaan oor dieselfde kwessie. Ons moes al so ver gaan om die regering aan te kla van minagting van die hof. Een van ons klagtes teen die regering is die feit dat hulle hofprosesse minag.

Is dit nie onpatrioties om die regering by die VN te verkla nie?

Dit is juis patrioties. Indien die regering internasionale beste praktyke oortree, moet hulle in lyn gebring word. Internasionale konvensies is deel van ons demokrasie en net soos patriotiese burgerlike organisasies ’n waghondrol het om sorg te dra die regering aan plaaslike wette gehoorsaam is, het hulle ook ’n rol om die regering verantwoordbaar te hou teenoor internasionale konvensies. 

Hoe werk die proses by die VN?

Suid-Afrika is ’n ondertekenaar van die konvensie vir die uitwissing van alle vorme van diskriminasie. Ons verbind ons tot die inhoud en onderneem selfs om plaaslike wetgewing daarmee te belyn. Die konvensies maak nie voorsiening vir aparte rassesilo’s soos Suid-Afrika se rassekwotabeleid nie. Regerings moet gereeld verslag doen oor wat hulle doen om rassediskriminasie uit te wis. Burgerlike organisasies kan dan op grond van die verslag die regering in die vorm van ’n skaduverslag aankla indien kwessies verswyg word. Solidariteit het besluit om dié roete te volg. ’n Komitee bestaande uit 18 lande evalueer dan die regeringsverslae en die verslae van burgerlike organisasies. 

Wat kan die komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie doen?

Die Komitee maak aanbevelings wat dan deur die regering geïmplementeer moet word. Die regering moet dan binne twee jaar verslag doen oor wat hulle gedoen het om die aanbevelings te implementeer. Indien die regering dit ignoreer, skep dit ’n internasionale verleentheid. In ekstreme gevalle kan ’n land sy lidmaatskap van die konvensie verloor indien aanbevelings geïgnoreer word. Wat selfs belangriker is, is die feit dat state onderneem om plaaslike wetgewing aan te pas om dit te belyn met die konvensie. Indien die komitee aanbevelings maak ten gunste van Solidariteit, is dit ’n kragtige wapen vir plaaslike regsaksies.

Wat is die kern van Solidariteit se saak?

Die kern van Solidariteit se saak is die gebruik van die nasionale rassedemografie as kwota in die werkplek en in sport. Ras het die oorheersende faktor in die Suid-Afrikaanse samelewing geword. Ons argumenteer dat ’n toekoms nie op grond van ras gebou kan word nie. 

Hoekom word ook op sport gefokus?

Solidariteit en AfriForum het ’n gesamentlike deel opgestel oor rassekwotas in sport. Dit lig die absurditeit van die regering se rasse-ideologie uit. Om te verwag dat alle sportspanne die rassedemografie van Suid-Afrika moet weerspieël, is totaal wêreldvreemd. Oral in die wêreld verkies sekere groepe sekere sporte bo ander sporte. Die sportspanne sal natuurlik die samestelling van die mense hê wat dit wil speel. Die internasionale sportkodes verbied in elk geval enige vorm van regeringsinmenging in sport.

Kan mense help om julle suksesvol te maak? 

Ons kan nie suksesvol wees sonder mense se steun nie. Die Verenigde Nasies wil weet of ons plaaslike steun het. Ons wil dus wys dat honderde duisende mense ons steun. Hierdie is ’n unieke geleentheid om vir die internasionale wêreld te wys dat duisende mense rassekwotas verwerp. Hoe sterker ons mandaat deur die gemeenskap, hoe sterker is ons by die Verenigde Nasies.

SMS net die woord REG na 34802 en maak Solidariteit by die Verenigde Nasies sterk. Elke stem gaan getel word.

Het jy ‘n vraag rakende die VN? Vrae hom hier.

  • 12
  •  
  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Maak toe / Close