Die vakbond Solidariteit sê dat gemoedere vandag hoog geloop het by die sitting van die Verenigde Nasies se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie. Suid-Afrika se beleid oor regstellende aksie was veral onder die vergrootglas ná Solidariteit se aanbieding vroeër vandeesweek.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, was daar onder meer beskuldigings van die komiteelede dat die Suid-Afrikaanse regering se beleid te rigied is en selfs neerkom op ou-apartheid. “Die Suid-Afrikaanse regering het dit ontken en gesê hy volg nie ʼn kwotastelsel nie. Die regering het Solidariteit daarvan beskuldig dat die gebrek aan vordering onder meer toegeskryf kan word aan Solidariteit se hofsake en die klagtes wat aan die Verenigde Nasies voorgelê is,” sê Hermann.
Die adjunkminister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, John Jeffrey, moes vrae beantwoord na aanleiding van die verslag wat hy gister namens die Suid-Afrikaanse regering aan die komitee voorgelê het. Dié verslag volg op die aanbieding wat Solidariteit en AfriForum Maandag aan die VN-komitee gedoen het oor die Suid-Afrikaanse regering se beleid van rassekwotas in werk en sport.
Volgens Hermann het die komiteelede die regering geroskam omdat sy verslag laat ingedien is en omdat dit oor gebrekkige inligting beskik.
“Een van die komiteelede en ’n voormalige voorsitter van die Belgiese konstitusionele hof, Marc Bossuyt, het gister gesê die regering se beleid van regstellende aksie is rigied en die toepassing daarvan in die privaat sektor, ekonomie en sport is absurd. Die gebruik van ras kom neer op ou-apartheid en word nie deur die konvensie beskerm nie,” sê Hermann.
Jeffreys het egter ontken dat die regering ʼn kwotastelsel volg. Hy het gesê dat ʼn lang pad nog voorlê en dat die stadige pas deels te wyte is aan Solidariteit wat hom tot die howe en die Verenigde Nasies wend.
Bossuyt het in reaksie op die minister se antwoord gesê hy kan nie die verskil tussen kwotas en teikens insien nie. Spesiale maatreëls moenie die vorm van omgekeerde rassisme aanneem nie. Volgens hom kan daar nie iets soos goeie rassisme wees nie en mag spesiale maatreëls nie op grond van velkleur toegepas word nie. Hy meen die fokus moet eerder op skole wees, aangesien dit meer voordelig is – al is dit meer uitdagend.
Nog ʼn komiteelid het gesê dat kwotastelsels op die lang termyn nie goed is nie en dat ander beleidsrigtings oorweeg moet word.
Daarby het komiteelede sterk gefokus op opleiding. Die komitee se rapporteur wat vir Suid-Afrika verantwoordelik is, me. Dah, het gesê Suid-Afrika beskik oor ʼn groot onderwysbegroting. Befondsing is dus nie die probleem nie; daar moet ʼn ander probleem wees.
“Ons vind dit ironies dat die regering Solidariteit se hofsake as weerstand beskou. Die regering is geïrriteerd met die inmenging van die howe in die implementering van sy rassebeleid. Die regering wil nie deur wetgewing gebind word nie. Die Suid-Afrika regering is al verskeie kere deur howe skuldig bevind op aanklagte van onbillike rassediskriminasie,” het Hermann gesê.
“Ons is uiters tevrede met ons vertoë. Ons voorlegging het die sitting tot ’n groot mate oorheers en het tot hewige debat gelei. ’n Ander stem is op ’n internasionale platform gehoor. My indruk van dit wat vandeesweek by ’n VN-komitee gebeur het, is dat Suid-Afrika sy status as liefling van die wêreld verloor het,” het Hermann gesê.
Die komitee gaan nou ʼn verslag saamstel en aanbevelings maak. Suid-Afrika moet dan binne twee jaar verslag doen oor hoe die aanbevelings geïmplementeer is.
Goeie dag, sien hiermee asseblief die skakel na die Engelse artikel: http://solidariteit.co.za/en/sparks-fly-united-nations-solidarity/
Beste Ferdinand, Solidariteit se verslag wat hy aan die VN voorgelê het, is aanlyn beskikbaar by die volgende skakels:
http://solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2016/08/VN-verslag-finaal.pdf (verslag)
en
http://solidariteit.co.za/wp-content/uploads/2016/08/VN-aanvullende-verslag-finaal.pdf (aanvullende verslag).
Ons beskik ongelukkig nog nie oor die regering se verslae nie.
Groete
Enige persoon met die nodige ervaring weet dat kwotas in die werksplek algemene praktyk in SA is. Die ander dag het ‘n keurkomitee dame A met ‘n bepaalde profiel aanbeveel vir ‘n pos. Nee, seg Employment Equity, ons het genoeg van daardie mense op ons personeel. Ons kan nie een enkele meer van hulle hier aanstel nie. Ons MOET ‘n persoon met ‘n ander profiel aanstel. Rassevoorkeur is geinstitusionaliseerd in SA en daarom moet daarna as rassisme verwys word.
Dis onduidelik of die komitee enige vereistes aan die regime se minister gestel het nie.
Hierdie artikel kon meer informasie ingesluit het en ook in Engels verskaf word.
Onthou hoe die ANC die wereld se steun gekry het! Hulle het dit nie in isiXhosa gedoen nie!