Lees Matteus 20:1–16.
Dié gelykenis rym nie met wat ons in die wêreld geleer word nie.
Robert de Moor vertel die volgende gelykenis en tas daarmee ons sin vir regverdigheid kwaai aan. Waarom moet almal ’n gelyke salaris kry vir ongelyke werk? Tydens appeltyd in Ontario het sy ma hulle sewe – sy pa ingesluit – sitgemaak met panne en messe totdat die berg appels in ’n netjiese ry gevulde flesse omskep is. Sy ma het nooit boekgehou van hoeveel appels hulle geskil het nie, alhoewel die jonges meer in die pad was as enigiets anders, meer tyd gemors het met gesnyde vingers, stryery oor wie kry watter pan en appelstronkgevegte.
Maar wanneer die werk voltooi was, was die beloning vir almal presies dieselfde: die grootste sjokolade-gedoopte roomys wat geld kon koop.
’n Puntenerige persoon sou kon argumenteer dat dit nie heeltemal regverdig was nie aangesien net die oudstes regtig appels geskil het. Maar hy kon nie onthou dat enigiemand ooit daaroor gekla het nie. Gesinslede verstaan dat ’n gesin onder ’n ander stel reëls werk as ’n hof of ’n besigheid!
Om die waarheid te sê, as die winkel se roomys op was en die jongste kind moes klaarkom met ’n suigstokkie, was hulle almal jammer ten spyte van sy onproduktiwiteit (en al het hy die appels wat hy daardie dag moes afskil, opgeëet – albei van hulle).
Net so sê De Moor wil God ook hê dat al sy kinders die volle genadegeskenk moet geniet. Geen kind van God wil hê dat dit op enige ander manier moet werk nie omdat ons ook volgens ’n ander stel reëls werk – God se genade!
Leo Tolstoi, die Russiese skrywer het gesê: Waar daar geloof is, daar is liefde. Waar daar liefde is, daar is vrede. Waar daar vrede is, daar is God.
Paulus verduidelik dit in Filippense 4:7 nog beter – As God by jou is, kan jy aan drie beloftes vashou!
Hierdie is ’n uittreksel uit Nader Aan God Nader Aan Mekaar deur Ewald Van Rensburg
Hierdie boek, en ander dagstukkieboeke deur Struik Christian Media is nou beskikbaar by CUM Boeke: https://www.cumbooks.co.za/nader-aan-god-nader-aan-mekaar-flex-cover
Foto’s deur Deon Kotze