Deur Reon Janse van Rensburg
Volgens ’n verklaring wat deur die Verenigde State se konsul-generaal in Kaapstad uitgereik is, het die Amerikaanse konsulaat-generaal in Kaapstad ’n gesamentlike handels- en beleggingsbevorderingsvennootskap met die Wes-Kaapse regering geloods wat op die reeds bestaande ekonomiese verhouding sal voortbou en daarop gemik is om gedeelde welvaart en ekonomiese ontwikkeling te bevorder.
Volgens die konsulaat-generaal sal die vennootskap die dekades van innoverende handel en beleggingsbevordering deur die Wes-Kaapse agentskappe soos Wesgro en die dienste, hulpbronne en kundigheid van 17 Amerikaanse regeringsinstansies benut om Amerikaanse en ook Afrika-ondernemings te ondersteun. Die vennootskap sluit ook die African Growth and Opportunity Act (AGOA) in, wat belastingvrye uitvoer van meer as 6 500 goedere vanaf Afrika na die VSA toelaat.
Die Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, David Maynier, en die Amerikaanse waarnemende konsul-generaal in Kaapstad, Will Stevens, het tydens die geleentheid waarby die vennootskap aangekondig is, onderneem om die samewerking en koördinering tussen die twee rolspelers te verdiep om sodoende die bilaterale handel en belegging te bevorder en te verhoog deur middel van verskillende verbintenisse, geleenthede en interaksies op ’n hoë vlak.
Die verklaring dui daarop dat die ekonomiese verhouding tussen die twee rolspelers sterk is en dat dit ook groei toon. Die Wes-Kaap se uiteenlopende en dinamiese ekonomie lok beleggings van Amerikaanse maatskappye – groot en klein – en volgens die verklaring is die VSA reeds jare lank die voorste direkte buitelandse belegger in die Wes-Kaap.
Die Amerikaanse konsul-generaal noem dat Amerikaanse ondernemings in die Wes-Kaap belê en dat daar in die proses tienduisende werkgeleenthede geskep word. Dit lei ook daartoe dat Wes-Kapenaars opleiding en vaardigheidsontwikkeling ontvang, en die VSA ondersteun ook plaaslike gemeenskappe deur die implementering van humanitêre programme in die provinsie.
“Die Verenigde State is ʼn belangrike toerisme- en sakemark vir die Wes-Kaap en ook die grootste bron van direkte buitelandse beleggings vir die Wes-Kaap, dus is ek opgewonde oor die potensiaal vir verdere beleggings en ekonomiese groei vir albei streke.” – David Maynier, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede
Die verklaring meld dat die bilaterale handel tussen die VSA en die Wes-Kaap toeneem en dat handel oor die afgelope 20 jaar met 335% gestyg het. Die waarde daarvan word op ongeveer R17 miljard per jaar gestel, en ten spyte van die Covid-19-pandemie neem die handel steeds toe.
Die uitvoer van sitrus en wyn na die VSA het met onderskeidelik 68% en 78% toegeneem.
Volgens die verklaring voer honderde maatskappye in die Wes-Kaap produkte na die VSA uit as deel van hierdie wederkerige handel. Wes-Kaapse ondernemings is ook tans besig om bedrywighede in die VSA te stig of vennootskappe net Amerikaanse ondernemings te vorm.
“Die handels- en beleggingsvorderingsvennootskap bou voort op ons sterk verhouding met die Wes-Kaap en die Amerikaanse regering se verbintenis om ons reeds sterk handel en belegging te verhoog. Die vennootskap weerspieël ook die Amerikaanse private sektor se toenemende belangstelling in die Wes-Kaap en die potensiaal om die bilaterale handel verder uit te brei.” – Will Stevens, waarnemende konsul-generaal van die VSA in Kaapstad
Bron:
U.S. and Western Cape trade and investment partnership launched – https://za.usembassy.gov/u-s-and-western-cape-trade-and-investment-partnership-launched/