Jeremia is sekerlik een van die Bybel se sprekendste voorbeelde van moedeloosheid en negatiwiteit. Tog, in die middel van sy boek met die naam “Klaagliedere”, skryf hy vurig oor liefde, hoop en God se getrouheid. “Op u ontferming kan ’n mens altyd vertrou. Dit is elke oggend nuut,” getuig hy in vers 23.
In jou eie tye van moedeloosheid, as alles om jou swart en uitsigloos lyk, kan jy aan hierdie belofte vashou: Jy kan altyd reken op God se troue liefde vir jou. Hy hou nooit op om vir jou om te gee nie, ongeag jou huidige omstandighede. Sy genade vir jou is eindeloos, sy ontferming elke môre splinternuut!
Jy mag maar op Hom vertrou en seker wees van sy goedheid. Jy kan met sekerheid daarop reken dat Hy jou sál red, mits jy bereid is om geduldig te wag, want meestal kom God se hulp nie onmiddellik nie. Maar wees verseker: Dit kom áltyd. Gaan onderstreep die belofte in Klaagliedere 3:24–25 in jou Bybel: “Ek sê vir myself: ‘My lewe behoort aan die Here. Daarom vertrou ek op Hom.’ Die Here is goed vir hulle wat op Hom wag en Hom soek.”
Daar is nog ’n voorwaarde vir hierdie belofte: Jy moet op die regte manier wag. Klaagliedere 3:27 lui: “Dit is goed om van jongs af te leer om geduldig vir die Here te wag.”
“Wag is nie ’n passiewe daad van oorgawe nie, maar die uitlewing van die innerlike oortuiging dat die Here beslis sal ingryp. Dit is baie belangrik dat die mens sal besef dat daar tye kom wanneer hyself niks kan doen nie en dat hy nie hulp van ander mense kan verwag nie. Dan moet die mens op die Here wag. God sien nie net alles raak nie, maar is in beheer van alles, lees ons in Die Bybellennium.”
Wag jy al op hierdie manier? Is jy bereid om geduldig, jou hele lewe lank, te wag op God se hulp? Dan mag jy maar vertrou dat Hy in jou omstandighede sal ingryp en jou sál help, want God is ten nouste betrokke wanneer sy kinders swaarkry.
Hemelse Vader, baie dankie dat ek al soveel kere en op soveel maniere deur die verloop van my lewe kon ontdek dat U intiem betrokke is by my swaarkry, dat U alles daarvan weet en elke keer bereid is om my te help. Leer my om op die regte manier op U te wag. Amen.
U wys vir my die lewenspad; in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd.
– Psalm 16:11
Nina Smit boeke, en ander dagstukkieboeke deur Struik Christian Media is nou beskikbaar by CUM Boeke: bit.ly/3bePEqx
Foto deur Deon Kotze