Deur Reon Janse van Rensburg
Volgens die Wêreldbank se Global Economic Prospects-verslag wat vroeër die maand gepubliseer is, word daar verwag dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2021 met 3,3% sal herstel en sal terugkeer na ʼn “bykans potensiële tempo” van 1,7% in 2022. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2020 met byna 7,8% gekrimp het.
Suid-Afrikaanse ekonome is egter minder optimisties oor die vooruitskattings en verwag dat 2021 ʼn jaar van ellende gaan wees.
Die Suid-Afrikaanse ekonomie staar in 2021 verdere kredietafgraderings in die gesig as gevolg van wanbetalings van die land se skuld, veral as daar nie binnekort ʼn drastiese ekonomiese verbetering getoon word nie. Volgens Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sal verdere kredietafgraderings deur drie van die groot kredietgradeerders nl. Moody’s Investors Service, S&P en ook deur Fitch plaasvind as die land nie die verwagte groei van 3% bereik nie.
Dit beteken dat waar Suid-Afrika tans in die B-klas gegradeer word, twee verdere afgraderings hom verby die C-klas van riskante beleggings tot in die D-klas sal dompel as gevolg van wanbetaling.
Volgens Bishop is daar 18 miljoen Suid-Afrikaners wat tans afhanklik is van toelaes om te oorleef. Sy het egter gewaarsku dat indien Suid-Afrika afgegradeer word en as ʼn wanbetaler bestempel word, die land nie meer in staat sal wees om aan te hou om geld te leen om hierdie toelaes te betaal nie.
Bishop meen ook dat die slegte nuus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie nie by hierdie slegte nuus stop nie. Sy het genoem dat buitelanders oor die afgelope paar jaar hul aptyt vir Suid-Afrikaanse staatseffekte begin verloor het en dat Suid-Afrikaanse banke begin pa staan vir die staat se wanbetaling van skuld.
Momentum het in ʼn nota aan beleggers genoem dat Suid-Afrika in ʼn gelukkige posisie sal wees indien die ekonomie daarin slaag om met 2% te groei.
Die verslag van die Wêreldbank toon dat die Covid-19-pandemie ʼn drastiese daling in die inkomste per capita teweeggebring het, wat tot gevolg het dat miljoene Suid-Afrikaners asook die res van Afrika se bewoners suid van die Sahara in armoede gedompel is.
Die verslag dui daarop dat inkomste per capita met 6,1% gedaal het – die ergste inkrimping op rekord – wat veroorsaak is deur gepaardgaande inperkingsregulasies wat die meerderheid ekonomiese aktiwiteite onderbreek het.
Volgens die Wêreldbank sal daar na verwagting ʼn verdere daling van 0,2% in 2021 plaasvind voordat die per capita-inkomste in 2022 ietwat sal verstewig.
Die verslag toon ʼn verdere verwagting dat die afname in inkomste per capita in ʼn kwart van die Afrika-ekonomieë suid van die Sahara die gemiddelde persoon se lewenstandaard met ʼn dekade of selfs meer sal terugsit, met selfs nog erger terugslae in lande soos Nigerië en Suid-Afrika wat ʼn kwart van hierdie streek in Afrika se bevolking huisves.
Volgens die verslag word daar verwag dat die wêreldekonomie met 4% sal groei, maar dit is gegrond op die veronderstelling dat die aanvanklike inentings dwarsdeur die jaar wyd verspreid toegedien sal word. Die Wêreldbank voorsien egter dat die verspreiding van ʼn entstof in die sub-Sahara-streek baie hindernisse te bowe sal moet kom, insluitende ʼn swak vervoerinfrastruktuur en swak gesondheidstelsels wat oor beperkte kapasiteit beskik.
Die Wêreldbank se verslag dui daarop dat Suid-Afrika se vroeë en harde inperking wat die ekonomie byna tot ʼn totale stilstand gebring het, en die rampspoedige ekonomiese inkrimping van 7,8% veroorsaak het, nog erger kon gewees het indien die regering nie monetêre steun gebied het en fiskale beleide aangepas het nie.
Morné Malan, kommunikasiehoof by Solidariteit, verduidelik dat volgens die VN meer as 130 miljoen bykomende mense wêreldwyd vanjaar hongersnood in die gesig staar – hoofsaaklik as gevolg van inperkings. Dis duidelik dat geen virus so dodelik is soos regerings se pogings om hierdie virus te bestry nie. Inperkings vernietig eenvoudig ekonomieë en wanneer ekonomieë krimp, dan kos dit nie bloot net geld nie. Ongelukkig boet baie van die armstes ook met hul lewens.
Volgens die Wêreldbank is daar ook ander uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar soos die staatsbeheerde instelling Eskom. Dié staatsbeheerde onderneming wat steeds ten spyte van ʼn omdraaistrategie beurtkrag toepas en nie krag sonder kragonderbrekings kan voorsien nie, belemmer die ekonomie en weerhou beleggers daarvan om in die Suid-Afrikaanse ekonomie te belê.
Suid-Afrika beleef ook reeds aan die begin van 2021 ʼn tweede golf infeksies wat reeds veroorsaak het dat inperkingregulasies hersien is en strenger maatreëls weer in plek is. Dit is ook kommerwekkend omdat daar reeds sprake is van nóg strenger maatreëls omdat die getal infeksies by die dag styg en gesondheidsdienste nie die toenemende druk kan hanteer nie.
Daar word ook deur kundiges gewaarsku dat daar in 2021 grootskaalse bankrotskappe gesien sal word, en indien die land verder afgegradeer word, sal die banke dit nie kan hanteer nie.
Bronne:
Global Economic Prospects Report – https://www.worldbank.org/en/publication/global-economic-prospects
World Bank warns of extreme poverty setback as South Africa is buffeted by Covid – https://www.engineeringnews.co.za/article/world-bank-warns-of-extreme-poverty-setback-as-south-africa-is-buffeted-by-covid-2021-01-05
2021: Jaar van ‘ellende’ wag op SA ekonomie – https://www.netwerk24.com/Sake/Ekonomie/2021-jaar-van-ellende-wag-op-sa-ekonomie-20210111